ALPHA KURSUS VIR HUWELIKE EN VERLIEFDES

Afdruk PDF

In 2003 (die nuutste statistiek wat ek kon vind) alleen is ongeveer 28 500 egskeidings in Suid-Afrika afgehandel. Dit is ongeveer 80 egskeidings per dag. 560 per week. Net in Suid-Afrika. 30 311 kinders en 57 000 ouers is en word steeds deur hierdie egskeidings geraak. Dit is skrikwekkende statistiek wat waarskynlik die laaste paar jaar sedert 2003 gegroei het. Daar is nie veel in ons samelewing wat op die teendeel dui nie.

Paulus skryf nie verniet in 1 Korintiërs 7 dat getroudes sal swaarkry in hierdie lewe nie. Dit is harde werk om getroud te wees!

Die duiwel val huwelike en gesinne sonder ophou en sonder om moeg te raak aan. Hoekom? Want dit is een van die gebiede (eintlik seker die enigste gebied) waar mense so nou en intiem met mekaar saamleef, dat dit 'n broeiplek is vir swak skakels. En die Satan "luv" 'n swak skakel. Hy knip hom en begin 'n subtiele pad van verwoesting stap. Ons moet ons huwelike oppas en vertroetel.

Die huwelik is immers 'n lewende instelling. Dit is 'n organisme wat nie sonder die nodige lewensmiddele oor die weg kan kom nie. 'n Lewende organisme wat nie sonder die verkwikking van geestelike voeding kan bestaan nie. Dit is 'n organisme met drie selle: man, vrou en God. En dit is God wat aan die huwelik lewe gee. 'n Man en vrou kan nie gesamentlik óf afsonderlik lewe in 'n huwelik inblaas nie. Dit kan vergelyk word met 'n poging om 'n dooie te probeer bybring met mond-tot-mond asemhaling. DIT WERK NIE!

'n Huwelik is 'n unieke tipe vennootskap waar beide vennote 'n 100% ledebelang hou. Dit beteken dat elkeen van die vennote 100% in die wins deel en 100% van die risiko dra. Dit beteken dat elke vennoot 100% moet belê in die huwelik. Die "ontvang" in die huwelik spruit voort uit die "gee" en nie andersom nie. As ek nie 100% gee nie, kan ek nie verwag om 100% te ontvang nie. En as ek nie 100% gee nie, kan ek ook nie verwag dat die vennootskap 'n sukses sal wees nie. Likwidasie is die voorland. Veral met die Satan wat op die uitkyk bly vir swak skakels. Ons moet ons huwelike oppas - ook ter wille van ons kinders.

Die huwelik is die veilige hawe waarbinne kinders gebore word. Dit behoort in die ideale omstandighede soos 'n tweede baarmoeder te funksioneer. Kinders word binne die uterus van die huwelik beskerm en gevoed. Dit is die veilige omgewing waarbinne hulle groei en ontwikkel. Kinders word vanuit die huwelik uitgestuur die wêreld in. 'n Huwelik tussen twee ouers het op meer as een manier 'n invloed - positief of negatief - op die kind wat daaruit gebore word. Dit is die enigste plek (ek bedoel ENIGSTE plek) waar 'n kind kan sien hoe 'n gelukkige, gesonde, gebalanseerde huwelik funksioneer. En geen mens kan buite sy of haar verwysingsraamwerk optree nie. As my idee van die werking van 'n huwelik verwronge is as gevolg van my ervaring van my ouers se huwelik, kan ek onmoontlik 'n normale, positiewe rol in my eie huwelik speel. En ek praat nie net van soentjies, drukkies en handjies vashou nie! Ek praat van konflikhantering en van rolverdeling. Ek praat van die invloed wat ek God toelaat om in my huwelik te hê. Ek praat van die manier hoe ek my huweliksmaat met die grootste liefde en respek aanspreek en hanteer. Geen boek of terapeut kan die lewende voorbeeld van 'n gelukkige huwelik vervang nie.

Ons gemeente bied nou 'n GRATIS geleentheid om jou en jou maat se huwelik te help versterk. Die ALPHA KURSUS vir huwelike word in Augustus en September hier aangebied. Tydens die kursus word THE MARRIAGE COURSE behandel. Dit is 'n praktiese kursus waar egpare toegerus word met die nodige vaardighede om 'n sterk en gesonde huwelik, wat 'n leeftyd hou, te bou. Die kursus duur vir sewe aande wat oor sewe weke strek. Tydens hierdie sessies word daar gesels oor sake wat andersins nie bespreek word nie. Daar word, onder andere, geleer oor vergifnis en sinvolle kommunikasie.


ALPHA_HWELIKE_2