DIE DOEL VAN SWAARKRY
(DS JURGENS DE JAGER)
Skriflesing:
3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. 4In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons weer ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig, 5want net soos daar vir ons 'n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons 'n oorvloed van bemoediging deur Christus. 6As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle te bemoedig en te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur.
(2 Korintiërs 1)
Hoekom kry kinders van die Here ook swaar? Dink jy daar is enige goed in swaarkry en moeilike omstandighede? Wat dink jy is die doel van swaarkry? Ek gaan nou 'n paar slegte goed opnoem wat met ons kan gebeur. Goed wat jou dalk diep kan seermaak omdat jy dit wat met jou gebeur het onderdruk, ignoreer, stilbly of agter jou rug inskuif. Misken versleg jou gesondheid skielik. Dalk hoor jy dat jy 'n terminale siekte het. Of jou finansiële posisie is so haglik dat jy nie langer wil leef nie. Miskien sterf jou geliefde huweliksmaat ontydig en laat jou alleen agter. Kan daar iets goeds kom uit 'n mislukte swangerskap, verkragting, 'n motorongeluk, aanranding of 'n roof?
Baie slegte dinge kan enige tyd met enige van ons gebeur, maar die Woord van die Here het vir ons goeie hoop vir enige slegte omstandighede.
Swaarkry is swaar, soms bitter swaar, maar die swaarkry is goed, soms baie goed!
Die Engelse spreekwoord lui: If there is nou pain, there is no gain
In 2 Korintiërs 1:3-6 kry ons maar een aspek van die doel van swaarkry. Daar is heelwat ander skrifgedeeltes wat weer ander kante van swaarkry vir ons verduidelik.
As die lewe swaar is, dan kry 'n mens ook swaar. Miskien verstaan jy goed omdat jy self nou in so 'n situasie is.
Swaarkry is soos 'n dief. Dit steel jou lekker slaap, jou blydskap, jou geluk en vrede. As swaarkry lank genoeg deel is van jou lewe, sluit swaarkry se vriende ook by jou aan. Dit is bitterheid, depressie, moedeloosheid, selfbejammering, opstand teen God en twyfel. As ek eers in diep swaarkry is, dan vergeet ek sommer van al die goeie van die verlede. Dan sien ek net die swaar van die hede en is daar eintlik niks meer vir die toekoms nie. Swaarkry kan maklik veroorsaak dat ek blind word vir al die wonderlike geleenthede van die lewe. Dat ek my hoop en my dankbaarheid en die wete dat God naby aan my is verloor en ek my Goddelike doel verloor
As swaarkry dan so sleg is, wat is die goed wat daaruit kan kom? Kan daar regtig iets goeds daaruit kom?
Ja, natuurlik, leer ons vandag in die Bybel. Die grootste swaar wat daar ooit was, was die dag toe Jesus aan die kruis gehang het en die wêreld se sondes op Hom geneem het. Dit was verskriklik! Dit was die helse straf van ons almal wat Hy gedra het. Dit was bitter seer, pynlik, ondraaglik, onregverdig, maar vir ons was dit goed. Vir ons was sy swaar soet. Vir ons het daar verligting gekom deur sy wonde. Vir Jesus was dit 'n bitter beker wat Hy die laaste druppel van moes drink. En dit sodat die Vader Hom ook sou verhoog tot die hoogste Naam bo alle name. Jesus se swaarkry het vir Hom 'n ereplek langs die Vader besorg waar hy alle gesag ontvang het om tot in ewigheid saam met die Vader sal regeer.
As 'n mens swaarkry deur die regte bril sien dan verander jou swaarkry sommer eensklaps. Dit hang alles af van hoe jy jou swaarkry SIEN. As jy jouself bejammer oor die verskriklike ding wat jou getref het, en die slegte omstandighede waarin jy jou bevind, dan raak jou swaarkry verskriklik, erg, ondraaglik. Maar as jy jou swaarkry sien deur die oë van God, dan kry jy hoop en krag en energie en blydskap te midde van die swaarkry.
Onthou jy hoe is Josef verwerp, maar hoe goed het God sy lewe laat verloop...? Onthou jy hoe Dawid onder Saul en later onder sy skande met Batseba gely het? Maar onthou jy ook hoe goed het dit uitgedraai? Onthou jy hoe swaar Daniël onder Nebukadneser gehad het en hoe goed dit vir sy nageslag was?
Kom ons leer so bietjie om deur die regte bril te kyk in ons swaarkry: Volgens die Skrifgedeelte wat ons gelees het laat swaarkry ons ander se swaar verstaan en help ons om ander te help. As Paulus nie so swaar gekry het nie, en die uitkomste beleef het nie, sou hy nie geweet het hoe om ander te help nie.
Paulus herinner die gelowiges in Korinte wat so swaarkry dat ons die Vader van ons Here Jesus moet loof omdat Hy nog altyd vir ons in alle omstandighede moed gegee het deur Hom oor ons te ontferm en ons te bemoedig.
Hy noem die Vader as't ware die Vader van ontferming (oiktirmos) en die Vader van moed - die Vader van OMGEE en MOEDGEE
Die woordjie moed kan ook vertaal word as comfort, gerusstelling, ondersteuning, verkwikking, compassion.
Ons God is 'n Vader wat hom ontferm oor sy kinders deur te verkwik en te ondersteun. Ons Vader omhels ons in ons swaarkry en Hy bemoedig ons deur sy Gees in moeilike tye.
Ek sien in my geestesoog hoe God by elkeen wat swaarkry is en hoe Hy elkeen dra en omhels en styf vashou en weer op 'n vaste rots plaas. Ons weet mos hoe die Vader ons dra deur moeilike tye en hoe Hy engele stuur om ons te ondersteun. Hoe Hy medegelowiges stuur om ons te bemoedig en hoe Hy ons nooit alleen laat nie, al voel dit soms so. As jy terugkyk na al jou ontberinge, kan jy absoluut die Hand van die Here sien en hoe Hy jou deur donker dieptes gedra het.
En omdat ons gehelp is deur God, het ons medelye met ander wat swaarkry. Ons kan hulle help en troos en bemoedig met dieselfde bemoediging wat ons van God en mense gekry het in ons swaarkry. As iemand, byvoorbeeld, al sy besittings verloor, is die mense wat eerste daar is om te ondersteun ook gewoonlik mense wat hulle besittings verloor het. As daar 'n sterfgeval in jou huis is, sal die eerstes wat by jou aankom met 'n bord vol troos en liefde, juis die wees wat al getroos is met so bord vol liefde. As jy hoor dat jy kanker het, sal die eerstes wat jou kom ondersteun, die wees wat hoop en moed gekry het in hulle kanker. As jy moedeloos is, sal mense wat hoop gekry het uit hulle moedeloosheid jou kom troos met hulle troos. As jy 'n verskriklike verwerping beleef het, sal die wat ook verwerping ervaar het, jou situasie goed verstaan.
Ons sien dus baie duidelik dat swaarkry ons leer hoe om ander mense te help in hulle swaarkry. Dit leer ons hoe ander te troos, te bemoedig en te ondersteun. Ondersteuning is een van die grootste deugde van 'n Christen. Ons moet maar in hierdie wêreld van swaarkry en seer en twyfel leef, sodat ander nie alleen hoef swaar te kry of sonder moed te wees in swaarkry nie. Ons is deel van almal om ons en ons het mekaar nodig en ons leer om mekaar te help deur die swaar wat ons kry.
Die vraag is: Reik jy uit na mense wat die Here op jou hart gelê het? Troos jy hulle met die troos wat jy gekry het? Ondersteun jy hulle met die ondersteuning wat God vir jou gegee het?
Swaarkry is swaar maar die swaarkry is ook goed. Dit help ons om ander te verstaan en te help sodat hulle ook met geduld hulle lyding en swaar kan verdra.
AMEN
Eredienste 


