BREEK DIE KLIPMURE VAN LAE SELFAGTING AF
DR. JACOB VAN ZYL
WOENSDAGAAND, 21 JULIE 2010
Hierdie is 'n baie kort en eenvoudige opsomming van Dr. Jacob se kursuspraatjie gebaseer op 'n hoofstuk in sy boek Breek deur die Grens. Die boek, met volledige inligting en 'n CD, is elke aand by die praatjies beskikbaar of Antoinette kan gekontak word by (013) 751 1644. Dr. Jacob, 'n teoloog en sielkundige, het baie jare se ondervinding met allerlei toestande wat mense se vreugde steel.
Ek is die wingerdstok, julle die lote.
Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte,
want sonder My kan julle niks doen nie."
(Johannes 15:5)
ENKELE GEDAGTES:
1. WAT VERSTAAN JY ONDER SELFAGTING?
Wat jy van jouself dink, die manier hoe jy jouself sien, hoe jy jouself evalueer en hoe dit jou lewe beïnvloed.
2. ASPEKTE VAN SELFEVALUERING
Selfagting hou verband met Selfevaluering. Dit is 'n voortdurende proses waarmee jy dikwels bewustelik, maar ander kere onbewustelik, besig is.
- Emosioneel
- Fisiek / Liggaamlike voorkoms
- Geestelik
- Interpersoonlik / Verhoudings
- Kognitiewe status / Intellektueel
- Seksueel
- Werksfunksionering / Bevoegdheid
3. WAAROM IS SELFAGTING BELANGRIK?
In my werk as sielkundige die afgelope sewentien jaar (en ek is seker enigeen wat met mense werk, sal met my saamstem) het ek in gesprekke agtergekom dat selfagting 'n terrein is waaroor hulle dikwels verward is, waaroor daar misverstand is, en mense vals en negatiewe oortuigings oor hulleself het. Dit veroorsaak dat mense hulleself "verkeerdelik" evalueer en gevolglik "verkeerd" oor hulleself dink.
Jou evaluering van jouself vorm 'n groot deel van jou realiteit waarvolgens jy dan jouself uitleef en jou lewe leef.
Jou selfagting het 'n raakpunt met die meeste ander aspekte in jou lewe. Selfagting beïnvloed jou strewes en besluite in belangrike momente in jou lewe, byvoorbeeld jou keuse van 'n beroep of huweliksmaat, jou funksionering by die werk, sowel as jou besluit om 'n bepaalde risiko te neem of jouself teen onnodige bedreiging te beskerm. Jou selfagting gaan ook jou ouerskap beïnvloed.
Baie van ons het dalk groot geword met die idee dat dit verkeerd is om goed oor jouself te voel of om "iets van jouself te dink". Daar is niks fout daarmee om 'n gesonde selfagting te hê nie. 'n Goeie selfagting vorm deel van jou geestesgesondheid en beïnvloed ook jou geloofslewe.
4. DIE MANIER WAAROP JY NA JOUSELF KYK, kan baiekeer na situasies in jou kinderjare teruggevoer word waar daar suggestie en negatiewe terugvoering plaasgevind het.
Suggestie is die proses waardeur een persoon 'n ander (sonder direkte argumente, opdragte of oorreding) kan beïnvloed om op 'n spesifieke manier op te tree of om 'n spesifieke mening, geloof of plan van aksie te aanvaar.
5. NEGATIEWE TERUGVOERING
Negatiewe terugvoering lei tot vermindering of onderdrukking van die lewering van 'n sisteem. 'n Afjak is by voorbeeld negatiewe terugvoering in interpersoonlike kommunikasie.
6. NEGATIEWE EN POSITIEWE ETIKETTE
'n Negatiewe etiket in jou denke en lewe kan vergelyk word met 'n plakker wat op jou voorkop geplak is met, byvoorbeeld die woord: Nikswerd. Jy hou hierdie plakker op jou voorkop. Daarvolgens rig jy jou denke oor jouself. Jy tree daarvolgens op. Jy maak dit jou selfverdoemende profesie. Jy klou aan die plakker vas al wil jy jouself nie so beskryf nie. Jy moet van hierdie plakker op jou voorkop bevry word. Jy moet dit aftrek en daarvan ontslae raak.
*Suggestie en terugvoer kan natuurlik ook positief wees. Ek vind egter dat mense geneig is om meer op die negatiewe suggestie en terugvoer wat hulle van ander ontvang het, te fokus. Hulle moet dikwels gehelp word sodat hulle weer die positiewe kwaliteite (en etikette) in hulleself kan ontdek of herontdek om daarvolgens hulle lewe, denke en optrede te rig.
7. SELFAGTING UIT 'N GEESTELIKE PERSPEKTIEF
- Sien jouself soos wat God jou sien;
- Wees gebalanseerd in jou selfagting;
- 'n Goeie selfagting is nie sonde nie;
- Selfliefde en liefde tot jou naaste - as jy jouself nie liefhet soos God dit bedoel nie, is dit moeilik om jou naaste ook lief te hê.
"Life makes sense when we accept our place.
The gift of pleasures, the purpose of problems -
all for Him.
The God-centered life works.
And it rescues us from a life that doesn't."
(Max Lucado in: It's Not About Me)
Max Lucado skryf in sy boek It's Not About Me dat ons heeltemal weg van onsself moet fokus. Ons moet op God fokus. Alles draai om God. Net soos wat die aarde om die son draai, moet jou lewe om die Seun van die mens draai. Net soos wat die maan (wat 'n stikdonker planeet is) die strale van die son weerkaats, moet jy Jesus se lig weerkaats. Jy beweeg weg van ek-gesentreerd na God-gesentreerd deur diep oor God na te dink, deur God te bedink, deur God in sy grootheid te aanskou. Eers dan word jy wie God bedoel het jy moet wees. Die volgende verhaal, wat deur 'n Joodse rabbi aan Max Lucado op 'n vliegtuig vertel is, wil aan jou iets vertel oor jou waarde, jou plek en jou rol op aarde. In 'n wolkekrabber êrens in Manhatten het almal in die gebou vir die uitvoerende direkteur, wie se kantoor in die heel boonste vloer van die wolkekrabber geleë is, gewerk. Meeste mense het hom nog nie gesien nie maar hulle het sy dogter al gesien. Sy werk in die gebou vir haar vader. Sy misbruik haar posisie in die familie tot haar voordeel. Een oggend nader sy die wag van die gebou, wie se naam Bert was. "Ek is honger, Bert. Gaan af met die straat en koop vir my 'n muffin." Die opdrag het Bert in 'n moeilike posisie geplaas. Hy is op diens. Indien hy sy pos verlaat plaas hy die gebou onder 'n veiligheidsrisiko. Sy baas se dogter dring egter daarop aan. "Komaan nou; maak vinnig." Watter opsie het hy? Indien hy gaan, sê hy niks maar hy dink iets in die rigting van: "As die dogter so baasspelerig is, wat sê dit oor haar pa?" Sy het maar net so pas begin. Terwyl sy aan haar muffin eet, loop sy in een van die sekretaresses vas. "Waar gaan jy met al daardie papiere heen?" Die sekretaresse antwoord: "Ek gaan dit laat bind vir die vergadering later vanmiddag." "Vergeet die vergadering. Kom na my kantoor en stofsuig die mat skoon." "Maar ek is aangesê om ..." "En ek vertel jou iets anders" dring die dogter van die baas weer aan. Die sekretaresse het geen keuse nie. Na alles is dit die baas se dogter wat praat. Dit veroorsaak dat die sekretaresse die wysheid van die baas bevraagteken. So gaan die dogter aan. Sy stel eise. Sy sê wat moet gebeur - haar woord is wet. Sy onderbreek skedules. Sy beroep haar nooit op haar pa se naam nie. Sy rugsteun nie haar opmerkings met: "My pa het gesê ..." nie. Dit is nie nodig nie. Is sy nie die baas se kind nie? Praat die kind nie namens die vader nie? So verwaarloos Bert sy pos. Die sekretaresse kry nie haar werk klaar nie. Meer as een werknemer bevraagteken die wysheid van die man op die boonste vloer. Weet hy regtig wat hy doen? begin hulle wonder. Uit hierdie verhaal is dit duidelik dat die dogter haar vader se naam oneer aandoen - nie met vulgêre taal nie maar met 'n onsensitiewe lewenswyse. Indien sy hierdie tipe gedrag in stand hou sal die hele gebou tweede gedagtes oor die uitvoerende direkteur kry ... Wat sal gebeur as die dogter anders optree? In plaas daarvan dat sy by Bert op 'n muffin aandring, bring sy vir Bert 'n muffin. "Ek het aan jou gedink vanoggend," verduidelik sy. "Jy het so vroeg aangekom. Het jy tyd gehad om te eet?" Sy oorhandig vir hom die geskenk - iets lekkers om te eet. Op pad na die huisbak loop sy vas in 'n vrou met arms vol dokumente. "O, ekskuus tog. Kan ek help?" bied die dogter aan. Die sekretaresse glimlag, en die twee dra die stapels dokumente af met die gang. So raak die dogter betrokke by die mense. Sy vra oor hulle families, bied aan om vir hulle koffie te bring. Nuwe werknemers word verwelkom, en harde werkers word geprys. Deur haar liefde en omgee verhoog die vlak van belewing van geluk in die hele maatskappy. Sy doen al hierdie opbouende dinge sonder om die naam van haar pa te noem. Nooit sê sy: "My pa sê ..." Dit is nie nodig nie. Is sy nie sy kind nie? Praat sy nie namens hom nie? Reflekteer sy nie sy hart nie? Wanneer sy praat, neem hulle aan sy praat namens hom. Omrede hulle so baie van haar dink, dink hulle baie van haar pa. Hulle het hom nog nie gesien nie. Hulle het hom nog nie ontmoet nie. Hulle ken wel sy kind daarom ken hulle sy hart ... Die dogter neem die hysbak na die boonste vloer van die wolkekrabber om haar vader te sien. Wanneer sy aankom, wag hy in die deur. Hy is bewus van haar goeie werke en hy het haar liefdevolle dade gesien. Mense dink meer van hom as gevolg van haar. En hy weet dit. Wanneer sy hom tegemoet kom, groet hy haar met ses woorde: "Wel gedaan, goeie en getroue dienskneg."
Eredienste 


