Max Lucado skryf in sy boek It's Not About Me dat ons heeltemal weg van onsself moet fokus. Ons moet op God fokus. Alles draai om God. Net soos wat die aarde om die son draai, moet jou lewe om die Seun van die mens draai. Net soos wat die maan (wat 'n stikdonker planeet is) die strale van die son weerkaats, moet jy Jesus se lig weerkaats. Jy beweeg weg van ek-gesentreerd na God-gesentreerd deur diep oor God na te dink, deur God te bedink, deur God in sy grootheid te aanskou. Eers dan word jy wie God bedoel het jy moet wees.
Die volgende verhaal, wat deur 'n Joodse rabbi aan Max Lucado op 'n vliegtuig vertel is, wil aan jou iets vertel oor jou waarde, jou plek en jou rol op aarde.
In 'n wolkekrabber êrens in Manhatten het almal in die gebou vir die uitvoerende direkteur, wie se kantoor in die heel boonste vloer van die wolkekrabber geleë is, gewerk. Meeste mense het hom nog nie gesien nie maar hulle het sy dogter al gesien. Sy werk in die gebou vir haar vader. Sy misbruik haar posisie in die familie tot haar voordeel.
Een oggend nader sy die wag van die gebou, wie se naam Bert was. "Ek is honger, Bert. Gaan af met die straat en koop vir my 'n muffin."
Die opdrag het Bert in 'n moeilike posisie geplaas. Hy is op diens. Indien hy sy pos verlaat plaas hy die gebou onder 'n veiligheidsrisiko. Sy baas se dogter dring egter daarop aan. "Komaan nou; maak vinnig."
Watter opsie het hy? Indien hy gaan, sê hy niks maar hy dink iets in die rigting van: "As die dogter so baasspelerig is, wat sê dit oor haar pa?"
Sy het maar net so pas begin. Terwyl sy aan haar muffin eet, loop sy in een van die sekretaresses vas. "Waar gaan jy met al daardie papiere heen?" Die sekretaresse antwoord: "Ek gaan dit laat bind vir die vergadering later vanmiddag."
"Vergeet die vergadering. Kom na my kantoor en stofsuig die mat skoon."
"Maar ek is aangesê om ..."
"En ek vertel jou iets anders" dring die dogter van die baas weer aan.
Die sekretaresse het geen keuse nie. Na alles is dit die baas se dogter wat praat. Dit veroorsaak dat die sekretaresse die wysheid van die baas bevraagteken.
So gaan die dogter aan. Sy stel eise. Sy sê wat moet gebeur - haar woord is wet. Sy onderbreek skedules. Sy beroep haar nooit op haar pa se naam nie. Sy rugsteun nie haar opmerkings met: "My pa het gesê ..." nie.
Dit is nie nodig nie.
Is sy nie die baas se kind nie? Praat die kind nie namens die vader nie? So verwaarloos Bert sy pos. Die sekretaresse kry nie haar werk klaar nie. Meer as een werknemer bevraagteken die wysheid van die man op die boonste vloer. Weet hy regtig wat hy doen? begin hulle wonder.
Uit hierdie verhaal is dit duidelik dat die dogter haar vader se naam oneer aandoen - nie met vulgêre taal nie maar met 'n onsensitiewe lewenswyse. Indien sy hierdie tipe gedrag in stand hou sal die hele gebou tweede gedagtes oor die uitvoerende direkteur kry ...
Wat sal gebeur as die dogter anders optree?
In plaas daarvan dat sy by Bert op 'n muffin aandring, bring sy vir Bert 'n muffin. "Ek het aan jou gedink vanoggend," verduidelik sy. "Jy het so vroeg aangekom. Het jy tyd gehad om te eet?" Sy oorhandig vir hom die geskenk - iets lekkers om te eet.
Op pad na die huisbak loop sy vas in 'n vrou met arms vol dokumente. "O, ekskuus tog. Kan ek help?" bied die dogter aan. Die sekretaresse glimlag, en die twee dra die stapels dokumente af met die gang.
So raak die dogter betrokke by die mense. Sy vra oor hulle families, bied aan om vir hulle koffie te bring. Nuwe werknemers word verwelkom, en harde werkers word geprys. Deur haar liefde en omgee verhoog die vlak van belewing van geluk in die hele maatskappy.
Sy doen al hierdie opbouende dinge sonder om die naam van haar pa te noem. Nooit sê sy: "My pa sê ..." Dit is nie nodig nie. Is sy nie sy kind nie? Praat sy nie namens hom nie? Reflekteer sy nie sy hart nie? Wanneer sy praat, neem hulle aan sy praat namens hom. Omrede hulle so baie van haar dink, dink hulle baie van haar pa.
Hulle het hom nog nie gesien nie. Hulle het hom nog nie ontmoet nie. Hulle ken wel sy kind daarom ken hulle sy hart ...
Die dogter neem die hysbak na die boonste vloer van die wolkekrabber om haar vader te sien. Wanneer sy aankom, wag hy in die deur. Hy is bewus van haar goeie werke en hy het haar liefdevolle dade gesien. Mense dink meer van hom as gevolg van haar. En hy weet dit. Wanneer sy hom tegemoet kom, groet hy haar met ses woorde:
"Wel gedaan, goeie en getroue dienskneg."



