KOM UIT JOU TERNEERGEDRUKTE, DONKER GAT UIT - DS. GERRIE DOYER, SONDAG, 25 JULIE 2010

Afdruk PDF

KOM UIT JOU NEERDRUKKENDE DONKER GROT UIT

(DS GERRIE DOYER, SONDAG, 25 JULIE 2010)

Skriflesing

1 Agab het vir Isebel vertel wat Elia alles gedoen het, ook dat hy al die profete om die lewe gebring het. 2 Toe het Isebel 'n boodskapper na Elia toe gestuur om vir hom te sê: "Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie." 3 Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Toe hy by Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat. 4 Hy self het egter 'n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder 'n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: "Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie." 5 Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud 'n engel aan hom en sê: "Word wakker! Eet!" 6 Toe hy opkyk, sien hy by sy kop roosterkoek wat op warm klippe gebak is, en 'n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. 7 Die engel het 'n tweede keer aan hom geskud en gesê: "Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word." 8 Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God. 9 Hy het in 'n grot ingegaan en die nag daar deurgebring. Toe het die woord van die Here tot hom gekom en vir hom gesê: "Wat maak jy hier, Elia?" 10 Hy antwoord toe: "Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring." 11 Maar die Here sê vir hom: "Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan." Skielik was daar 'n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar 'n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. 12 Na die aardbewing was daar 'n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar 'n fluistering in die windstilte. 13 Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy 'n stem wat vir hom sê: "Wat maak jy hier, Elia?" 14 Hy het geantwoord: "Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met u verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring." 15 Maar die Here sê vir hom: "Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe, en as jy daar aangekom het, moet jy vir Gasael salf tot koning van Aram. 16 Jy moet ook vir Jehu seun van Nimsi salf tot koning van Israel, en vir Elisa seun van Safat uit Abel-Megola moet jy salf tot profeet om jou op te volg. 17 Dan sal dit só wees: wie Gasael se swaard vryspring, Jehu sal hom doodmaak; wie Jehu se swaard vryspring, Elisa sal hom doodmaak. 18 Maar Ek sal in Israel die sewe duisend laat oorbly wat nie die Baälbeeld aanbid het nie." 19 Nadat hy daarvandaan af weggegaan het, kry hy vir Elisa seun van Safat besig om te ploeg met twaalf spanne van twee, terwyl hy self by die agterste span geloop het. Toe Elia by hom verbyloop, gooi Elia sy mantel op hom. 20 Hy het sy osse net so gelos en agter Elia aangehardloop en gesê: "Laat ek tog net my pa en ma gaan groet. Dan sal ek saam met u gaan." Elia antwoord hom toe: "Gaan as jy wil. Ek hou jou mos nie terug nie." 21 Toe draai Elisa om en gaan slag twee osse, en met die juk het hy die vleis gebraai en vir sy werksmense gegee om te eet. Daarna het hy saam met Elia gegaan en sy volgeling geword.

(1 KONINGS 19:1-21)

Daar is min onderwerpe waaroor daar soveel misverstande en vrae is soos depressie. Het ek depressie? Kan ek daaraan ly sonder dat ek dit weet? Wat is die simptome? Moet ek hulp kry? Of kan ek self iets daaraan doen? Ek is 'n Christen. Ek behoort altyd vrolik en bly te wees, maar die afgelope ruK voel ek dikwels terneergedruk. Stel ek God teleur?

Depressie is sekerlik die belangrikste oorsaak van selfmoord. Ek het al dikwels die gevolge van depressie beleef. My ma het soms terneergedruk gevoel. En tydens Linda se lang siekte het ek self soms depressief gevoel. En dan  het ek so skuldig gevoel, want sy is dan die een wat die swaarste kry en ek behoort háár op te beur. Na haar dood kry ek dikwels 'n knop in my keel, voel my gemoed baie swaar. In The Shack praat Young van die great sadness.

Depressie is wyd en vaag: dit strek van ligte terneergedruktheid as gevolg van die situasie in ons land tot "die diep swart gat van hopelose hulpeloosheid." Hoe genees jy? Net die Here bring genesing. Onmiddellik, byvoorbeeld na 'n lekker kuier saam met vriende, of met die hulpmiddels, byvoorbeeld psigoterapie en medikasie. Sommiges worstel hul lewens lank en ander genees volkome. Mense wat geneig is tot depressie, is van die kreatiefstes op aarde. Hulle leef intens. Uit hul seer kom wonderlike pêrels. Vincent Van Gogh. Michelangelo. Martin Luther. Abraham Lincoln. Jim Carrey. Leon Schuster. JK Rowling. Mark Twain. Rachmaninoff en selfs Britney Spears. John Lennon.

Elia gaan sit onder 'n besembos 'n dagreis ver die woestyn in en wens hy gaan dood. Hoe hanteer die Here hom? Hoe gaan jý onder die besembos uitkom? Dalk voel jy verlig omdat jy nog nooit depressief was nie. Maar daar is vir jou ook 'n vraag: Hoe gaan jy 'n ander ou uit sy depressie help?

SO KOM DIT...

Elia het hoog gevlieg. Hy het kort tevore oorwinning oor Baal behaal op die berg. En nou kry hy die boodskap dat Isebel hom wil doodmaak. Hy vlug die woestyn in. Soos 'n bang klein hondjie. Sy bui word gekenmerk deur selfmoordgedagtes, moedeloosheid, isolasie, moegheid. Hy voel verontreg en verlore.

Waar kom depressie vandaan? Sekere families het 'n geneigheid om meer depressief te wees. Of depressie kan voortspruit uit 'n gebeurtenis in 'n mens se lewe: 'n geliefde se dood, 'n aanval, skeiding, verontregting, langtermyn siekte, aanranding, mislukking. En dan is ons, net soos Elia, geneig om terneergedruk en moedeloos in 'n gat te kruip.

KOM UIT!

Wat doen die Here met Elia? Hy vra: "Wat maak jy hier, Elia?" Of in ander woorde: "Is dit waar jy wil bly sit? Kom uit?"

HOE?

1.            LOS JOU SKULDGEVOEL

Jy voel bedruk en depressie. Nou voel jy skuldig, want 'n Christen moet mos altyd vrolik en dankbaar bly. En dan kruip jy net dieper in die gat. Daar is 'n verband tussen depressie en skuldgevoelens. Vergeet van hierdie skuldgevoelens. Jy is 'n mens met emosies en 'n liggaam. God het jou so gemaak. En Christene kry ook depressie.

2.            PRAAT DAAROOR

Kry iemand wat jy kan vertrou om mee te praat. Vertel wat jy beleef. Deel die las. En as iemand wat aan depressie ly met jou kom praat? Luister net goed. Dit is nie nodig om raad te gee nie. Praat bring gevoelens na die oppervlak. Dit raak meer hanteerbaar.

3.            KRY PROFESSIONELE HULP

As jy besef dat die depressie groter is as wat jy sommer self kan hanteer. Dr. Jacob sê dat depressie die beste behandel word met die 'n kombinasie van gebedsterapie, medikasie en sielkundige hulp. Moenie aanhou skade berokken aan die persone naaste aan jou nie. Kry hulp.

4.            INSPIREER JOUSLEF

Jy self kan 'n reuse verskil aan jou emosies maak. Dink drie groot waarhede: (1) Ek is kosbaar in God se oë. (2) Ek leef vandag. (3) Alle depressie kom en gaan. En sê vir jouself kort positiewe spreuke: "Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee." "Niks kan my van die liefde van God skei nie." "Immanuel: God by my."

5.            VERGEWE

Daar is 'n definitiewe band tussen depressie en onvergewensgesindheid. 'n Grudge is nie 'n Portugese garage nie! 'n Wrok is 'n ketting wat bind. Vergewe en maak vry!

6.            DOEN IETS!

God gee vir Elia werk. 15 Maar die Here sê vir hom: "Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe, en as jy daar aangekom het, moet jy vir Gasael salf tot koning van Aram. 16 Jy moet ook vir Jehu seun van Nimsi salf tot koning van Israel, en vir Elisa seun van Safat uit Abel-Megola moet jy salf tot profeet om jou op te volg. Onaktiwiteit laat jou nog slegter voel.

Die besembos was die einde van Elia se pad... maar die begin van God se pad met Elia. Kom uit jou terneergedrukte, donker grot uit. GOD ROEP JOU!

AMEN