![]() |
![]() |
|
| Die kerkgebou vandag | Die preekstoel in die heel eerste kerkgebou |
Die storie en geskiedenis van die NG Gemeente, Witrivier, is ’n laslapkombers waarvan elke blokkie ’n gebeurtenis en lidmaat verteenwoordig. Die werk aan die kombers kom nooit tot ’n einde nie en elke dag word lappies aangelas – sommige met blydskap, vreugde en dankbaarheid en ander met hartseer, pyn en verootmoediging. Vandag se lappies word môre se kombers en so word ons gemeente en die lede toegevou in die warmte en snoesigheid van ons Here se liefde. God se wonderbaarlike seën en genade loop soos ’n goue draad deur elke blokkie van ons laslapkombers. In hierdie artikel kan ons maar ’n fraksie van ons geskiedenis deel. Een ding wat egter uitstaan bo enige ander vertelling en brokkie inligting, is die feit dat ons gemeente, as die liggaam van Christus, in alles poog om ons visie uit te lewe. Dit is om as ’n Liggaam van Christus ’n oase te wees wat God vereer, vir mekaar omgee en mekaar versorg en in ons samelewing hulp en hoop bring. Ons hoop dat ons eendag ons kombers vir die Here as ’n geskenk kan aanbied wat Sy hart warm maak en met trots vul.
In 1889 het die kerkraad van Lydenburg, wat ook in daardie tyd kerklike jurisdiksie oor die distrik van Witrivier uitgeoefen het, die eerste diaken aangestel om die gevestigde boere van Witrivier te bedien. Die vroegste melding van die NG Gemeente, Witrivier in die amptelike stukke van die kerk, dateer egter uit 1928 – die tyd toe Witrivier nog deel uitgemaak het van die gemeente Nelspruit (Ou Barberton). Op 4 Augustus 1928 is die hoeksteen van die eerste plek van kerklike byeenkoms gelê – weliswaar nie ’n kerkgebou nie maar ’n saaltjie. Die eerste kerkgebou is eers in 1956 ingewy en die saaltjie sou vir 30 jaar as die plek van samekoms en aanbidding dien. Die genoemde hoeksteen is steeds te sien in die huidige kerkgebou. Sabie-Witrivier het in 1933 afgestig van Nelspruit en in 1941 stig Witrivier van Sabie af om ’n gemeente uit eie reg te vorm. Sedert afstigting is die gemeente deur 19 predikante bedien. Huidig vorm Gerrie Doyer, Jurgens De Jager en Eddie Le Roux die konsilie. Ons is geseën met drie predikante wat die Here met volle oorgawe dien en liefhet. Drie manne wat met visie en op hul knieë die toekoms instap om ’n gemeente na die wil van God te lei.
![]() |
Op Sondag, 14 Desember 1981 is die eerste kerkgebou, wat in 1956 ingewy is, op tragiese wyse deur ’n brand verwoes. ’n Elektriese kortsluiting, wat reeds tydens die oggenddiens probleme veroorsaak het, het aanleiding gegee tot die verwoestende, onbeheerbare brand. Die gebeure het, volgens vertelling, die hele gemeenskap laat saamstaan om kantoordokumente, registers en ander dokumente van die een na die ander aan te gee en sodoende te red. Van die gebou het slegs die horlosie en die kerkklok behoue gebly. Die nuwe gebou is in 1983 ingewy. |
| Die eertydse kerkgebou wat brand | |
Aan kleurvolle lidmate en predikante het geen gemeente sekerlik ’n tekort nie. Maar die stories wat wel vertel word moet sekerlik naamloos en met omsigtigheid oorgedra word. Daar is altyd die kans dat die gestorwenes in hul grafte omdraai of dié wat steeds lewe met verontwaardiging en dreigemente van afstigting reageer. Ons jonger geslag sal oor 20 of 30 jaar die huidige stories met kleur en geur bekend maak, maar vereers moet ons staatmaak op die staaltjies van die ouer lidmate. Hannes Raath, ’n lidmaat sedert sy geboorte in 1949, vertel in die gemeente se Sestigjaar-Feesblad ’n pittige staaltjie: Ds. Martin Kruger was predikant toe ek in 1965 gekatkiseer het. Dit was die dae van veertien dae katkisasie voor die aanneming en voorstelling. Kleredrag was streng formeel: pak, boortjie-hemp, das en kerkskoene. Ek het elke middag met kortbroek en kaal voete fiets getrap in dorp toe. My ouma, tant Martha Horn het in die Bel-Air Woonstelle gebly. Daar kon ek verklee vir katkisasie-klas. Aanvanklik het ek gedink dit is muskiete wat my elke aand so laat krap, maar later het ek besef dit is vlooie. Ouma was daardie tyd nie tuis nie en haar woonstel het toegestaan. En Gogga, haar foksterriër, het sy vlooie daar gelos om elke aand saam met my te katkiseer. Vandag nog as ek na ds. Martin Kruger se streng-gesig foto in die konsistorie kyk, dan beleef ek die streng kyke wat ek in die katkisasieklas gekry het. Ek is toe wel aangeneem en voorgestel.
Here, ons wil ’n gebou wees wat stewig vasstaan op die fondament wat u apostels en profete gebou het. Ons wil ’n formidabele gebou wees waarvan Jesus Christus self die hoeksteen vorm. Ons wil tot ’n heilige tempel vir ons Here verrys. Ons wil dat U in ons geestelike huis kom woon. Ons wil ’n lewe leef waarin U duidelik sigbaar is. Wys vir ons hoe ons minder kan word en U meer. Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde.
Geskiedenis





