Kan 'n mens se gebed God se wil verander?, 2 Oktober 2011

Afdruk PDF
SONDAG, 2 OKTOBER 2011, DS. JURGENS DE JAGER
KAN 'N MENS SE GEBED GOD SE WIL VERANDER?

  • Kan God my sterfdag skuif na 'n ander sterfdag, as hy reeds my dag en uur bepaal het? Ons lees mos in Psalm 139:16 dat "al ons lewensdae is alreeds bepaal voor ons geboorte".
  • Kan ek God sy besluite verander deur my gebede?
  • Luister God eerder na goeie mense of hoe langer die gebede hoe meer luister Hy? Is daar 'n regte en verkeerde manier van bid?

Lees saam met my die verhaal van Hiskia en dan kyk ons wat ons hieruit kan leer vir ons lewe:

Die siekte en herstel van Hiskia

(Vgl. 2 Kronieke 32:24-26; Jesaja 38:1-8; 21-22)

20 In dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het na hom toe gekom en gesê: "So sê die Here: Sê vir jou gesin wat jou laaste wense is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer lewe nie."

2Toe draai Hiskia sy gesig na die muur toe en hy bid tot die Here: 3"Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë."

Hiskia het bitterlik gehuil.

4Jesaja was nog nie die binneplein van die stad oor nie toe die woord van die Here tot hom kom en sê: 5"Gaan terug en sê vir Hiskia, die leier van my volk: So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: Ek het jou gebed verhoor, Ek het jou trane gesien. Ek gaan jou gesond maak, en jy sal oormôre weer na die huis van die Here toe kan gaan. 6Ek sal jou lewe met vyftien jaar verleng en jou en dié stad red uit die mag van die koning van Assirië. Ek sal dié stad beskerm, om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil."

7Jesaja het toe opdrag gegee dat hulle 'n vyekoek moet bring en op die sweer moet sit, en die koning het beter geword.

8Toe vra Hiskia vir Jesaja: "Wat is die teken dat die Here my sal gesond maak en dat ek oormôre weer na die huis van die Here toe sal gaan?"

9Jesaja het geantwoord: "Die Here gee jou die volgende teken dat Hy sal doen wat Hy gesê het: moet die skaduwee tien trappe vorentoe gaan of tien terugkom?"

10Hiskia sê toe: "Dit is maklik vir die skaduwee om tien trappe vorentoe te skuif. Nee, laat dit tien trappe terugkom."

11Die profeet Jesaja het die Here aangeroep, en Hy het die skaduwee wat reeds teen die trap van Agas afgesak het, tien trappe laat terugskuif.

Kan 'n mens se gebed, God se wil verander?

Die antwoord hierop is Ja. Natuurlik! Dit is die voorreg van gebed. Hy is 'n Vader wat lief is vir sy kinders en natuurlik kan ons gebede ons omstandighede verander. Daar is honderde voorbeelde in die Bybel

Ek haal slegs 4 voorbeelde in die Bybel aan:

Voorbeeld 1

Genesis 18:16-33.

Hier tree Abraham in vir Sodom wat God wil vernietig omdat die stad in sonde verval het.   Abraham begin dan pleit in gebed tot die Here om die stad te spaar '" ter wille van die mense wat reg lewe". En uiteindelik sê die Here: " oor tien (regverdiges) sal ek dit (Sodom) nie verdelg nie' (vers 32).  Duidelik kon Abraham se gebed die Here laat afsien van sy plan.

Voorbeeld 2

Genesis 30 en 1 Samuel 1

Ons ken die verhaal van Ragel en Hanna wat nie kon swanger raak nie en dat God hulle gebede verhoor het en Josef en Samuel is gebore.

Voorbeeld 3

1 Konings 17:22

Elia het by 'n kind wat dood was gebid en die kind het lewend geword.

Voorbeeld 4:

2 Konings 20.

Die Here stuur vir Jesaja na koning Hiskia, en laat hom weet dat hy hom moet regmaak omdat hy binnekort gaan sterf. Sê vir jou gesin wat jou laaste woorde is. Jou tyd is baie min, jy gaan sterf. En wat doen Hiskia? Hy hardloop nie na sy gesin om sy laaste woorde te sê nie, nee, hy hardloop na die Here toe. Ons lees dat Hiskia het omgedraai en met sy gesig na die muur en hy begin bitterlik desperaat bid. So desperaat dat hy huil. Onthou julle vir Penina hoe dat sy huil het daar in die tempel? Desperaat. 3"Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë."

Interessant dat hy nie bid dat die Here hom moet spaar nie, of dat die Here hom moet gesond maak nie. Hy bid net: Here, hou net in gedagte dat ek 'n mooi lewe gehad het en dat ek reg gelewe het. Jy kan sien hy is so nederig afhanklik van die Here. En dan, nog voordat Jesaja naby aan sy huis kom, hoor hy weer die Here met hom praat: "Jesaja, ekskuus jong, ek het my besluit verander": Gaan terug na Hiskia en sê vir hom: 'Die Here het jou gebed verhoor, Hy het jou trane gesien.  Hy gaan jou gesond maak... Hy gaan jou lewe met vyftien jaar verleng' (vers 5). Jesaja sê toe verder: Gaan kry 'n vyekoek en sit dit op Hiskia se seerplek en hy sal gesond word. En die koning het beter geword!

Het God van plan verander? Dis duidelik! God het van plan verander!

Wat ons hieruit moet raaksien, is dat God se wil en sy plan vir en met ons lewens nie koue en harde besluite is wat ver vooruit vasgestel is en meedoënloos aftik soos 'n horlosie, en dat ons magtelose slagoffers daarvan is nie! Ons is in die Hande van 'n liefdevolle God wat ook sy planne met ons kan verander.

Voorbeeld 5:

Onthou julle die verhaal van Jona? Nadat God deur Jona die oordeel oor die stad Ninevé aangekondig het, het die stad tot inkeer gekom, en ons lees: "Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring' (Jona 3:10).  Hierop lees ons Jona se reaksie (verwytend): 'Ek het geweet U is ' genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde.  U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het' (Jona 4:2b).

God is 'n genadige God wat ons nood raaksien en wat op 'n besondere manier met elkeen van ons op 'n unieke manier handel.

Verander Hy elke keer sy besluite oor ons as ons desperaat huilend bid? Nee, God is God en Hy sal besluit, wat Hy gaan doen en hoe Hy ons gebede gaan verhoor.

Toe Jesus gebid het, terwyl hy bloed gesweet het, regtig so desperaat dat Hy driemaal gebid het: Ag Here my God, laat hierdie bitter beker tog by my verbygaan, het God nie sy wil verander nie. En ek dank die Here daarvoor, want dit het vir ons redding gebring.

God werk met elkeen van ons anders;

Ragel en Hanna moes 9 maande wag voordat hulle antwoorde gekry het. Abraham moes oor die honderd jaar oud word toe sy gebed verhoor is. Elia se gebed dat die offer aan die brand slaan is dadelik verhoor. So ook met Hiskia, hy het meer gekry as waarvoor hy gevra het. Toe Jaïrus vir sy dogtertjie bid dat sy gesond word, het die Here eers sy gebed verhoor nadat sy gesterf het... Paulus se doring is sy vlees is nooit verwyder nie, want hy was sterk as hy swak en afhanklik van die Here was...

Ons gebede kan God se wil verander as Hy wil...

Hy sal ons gebede verhoor op sy tyd wanneer Hy wil, soos hy wil...

Glo jy dit? Hiskia het dit nie geglo nie en 'n teken gevra...

-      vir Hiskia het God die sonwyser 10 grade laat terugskuif,

-      vir Moses 'n pad deur die see gemaak,

-      vir Jona het Hy lewendig uit 'n vis se maag gehaal,

-      vir Daniel het Hy beskerm in 'n kuil vol leeus,

-      vir meer as 10 000 mense het hy kos gegee uit 2 brode en 5 vissies, vir die HELE mensdom het Hy aan die kruis gesterf.

Dink net wat Hy vir jou kan doen as JY met Hom praat in gebed!